Wedergeboorte
Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Opsomming: Die Bybelse eis van bekering en wedergeboorte word toenemend verwerp en met ‘n “verlossingsleer” vervang wat op uitverkiesing en die verbondsdoop gebaseer is.
Die Here Jesus het vir ‘n geleerde teoloog wat van beter moes geweet het, gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Nikodémus was egter só in onkunde vasgevang dat hy nie eers geweet het van ‘n tweede, geestelike geboorte wat daar in jou lewe moet plaasvind as jy God wil behaag nie. Jesus se reaksie hierop was: “Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Joh. 3:10).
Hoe raak ‘n mens by só ‘n dooie vormgodsdiens betrokke wat net op uiterlike rituele gebaseer is? Jy laat ná om jou tot die Here te bekeer en weergebore te word, en betree dan die Christendom as ‘n ongeredde persoon. Om jouself as ‘n gelowige re regverdig, sê jy dan: “Ek is uitverkore, gedoop en aangeneem, en daarom ‘n kind van die Here.” Só mislei jy jouself!
Nikodémus was ‘n lid van die uitverkore volk, hy het die verbondsteken van die besnydenis gehad en was godsdienstig ‘n ten volle ingelyfde persoon, en tóg was hy verlore – op pad hel toe – omdat hy nie weergebore was nie! Die Here het geen behae in ‘n verbondsteken soos die besnydenis (Gal. 6:15) indien die betrokke persoon nie ook in sy hart besny is [m.a.w. geestelik weergebore] is nie, en ook nie in die waterdoop indien die persoon nie deur die Heilige Gees in Christus se liggaam gedoop [m.a.w. weergebore] is nie (1 Kor. 12:13).
Mense wat die Here Jesus net op grond van uiterlike sakramente volg, bewys slegs lippediens aan Hom omdat hulle harte koud en onweergebore is: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af” (Matt. 15:8).