Testimony - Marlene Hills Print E-mail

REDDING

Ek kom uit ‘n goddelose en stukkende ouerhuis uit, waar ‘n gevloek en geskel aan die orde van die dag was en geen liefde nie. Die persoon wie ek die meeste moes vertrou het, het my as 2 jarige dogtertjie gemolesteer. Toe ek dit vir my Ma vertel, het sy besluit die beste vir my sal wees dat ek by my ouma moet gaan bly. Onmiddelik het ek gevoel ek het iets verkeerds gedoen, want hoekom moet ek weggeneem word en by iemand anders gaan woon en wat van al my boeties? My Ouma het toe te oud geraak om my te versorg. My Pa het selde ‘n vaste werk gehad en op die ou einde het die welsyn al ons kinders kom neem en in ‘n kinderhuis geplaas, toe was ek maar 6 jaar oud, weer is ek ontwortel. Dit was ‘n koue en onpersoonlike roetine lewe, sonder liefde sonder drukkies en sonder omgee. Oggend en aand kerk asook Kinderkrans wat verpligtend was. Voor my aanneming en voorstelling het ons eers ‘n kamp bygewoon, en by daardie kamp het ek die Here in my lewe ingenooi as my Verlosser, toe verlaat ek die skool en omdat ek so ‘n geslote kinderlewe gehad het en ek vir die eerste keer met die wêreld te doen gekry het was dit vir my lekker. Die lewe was vir my ‘n lied, en ek het my Here agtertoe geskuif, later was ek presies soos die wêreldlinge.

In 1978 is ek getroud, ons het toe die DTD – doop trou en dood kerkgangers geword. Ons kinders is gedoop en ons het elke oggend en aand vir hulle uit die kinderbybel gelees en stories vertel, maar ons eie harte was vêr van God. In 1982 het een van Willie se kolegas hom aanhoudend genooi dat ons na sy kerk toe moet kom, dit was nou die EG kerk, net om die ou se mond stil te kry, gaan ons een Sondag aand na ‘n diens toe. Willie het die Maandagoggend sy hart vir die Here gegee. ‘n Jaar daarna toe gee ek my hart vir die Here en weereens het my bekering nie uitgewerk nie, presies soos Jesus dit beskryf het in sy Woord van die saad wat opgekom het maar toe die son dit bykom, toe verdroog dit. Omdat e kook gewerk het, het ek ons naweke baie geniet, want dan vat ons die kinders vir ‘n piekniek by die see en Sondae was natuurlik die beste dag om dit te doen want Saterdae was tuinskoonmaak en winkels toe gaan tyd. Ek en Willie het begin koppe stamp want hy wou kerk toe en ek wou see toe.

In 1987 was ons verplaas na George. Willie het baie hard gewerk, elke naweek moes hy op “standby” wees. Met Chris Hani se dood het hulle Willie-hulle se werksvoertuig met klippe gegooi, my man het groot stres gevang en hy word toe afgesit van sy werk, hy was maar net 39 jaar oud. Hy was in ‘n toestand en kon geen geraas hanteer nie en die kinders het te veel geraak vir hom, ons almal het swaar gekry selfs die hond. Ek kon die situasie self ook nie goed hanteer nie omdat ek nou my Pa, wat ook nie wou werk nie, in ons eie situasie raak gesien het. Ons het die grootste krisis in ons huwelik beleef. Selfs ons kerk waar ons so af en toe heen gegaan het, (want op hierdie stadium was ek en my man albei morsdood koud in ons harte) het ook ‘n krisis beleef en het in twee kampe geskeur.

Willie het gegaan om sy hare te sny by Koos ons haarkapper, hy was ook in ons kerk, ons loop toe die nuwe predikant daar raak en Koos stel ons toe voor as lidmate van die kerk. Ds. Johan Botha het ons verbaas aangekyk en gesê dat hy nou al drie Sondae gepreek het en ons nog nooit gesien het nie. Ons het toe belowe dat ons daardie Sondag sou gaan, nodeloos om te sê, dit was ons afspraak met God gewees.

27 April 1996 het ek ‘n boodskap uit God se hart gehoor spesiaal vir my; “Dat hulle wat ongered is nog onder die juk van Koning Farao (alias die duiwel) is en nog harde slawe arbeid vir hom doen. Hy het gesê dat hy nie met die ongereddes wou praat daardie dag nie, hulle moet hulle bekeer van hul verkeerde weë anders gaan hulle hul oë in die hel oopmaak, maar hy wou wel met die kinders van God wat ‘n val en opstaan lewe lei praat, m.a.w. ‘n woestyn lewe. Hy het gesê dat God hulle uitgelei het om hulle in Kanaan in te lei, die land van melk en heuning, waar die kind van God ‘n oorwinnende lewe kan lei.

Daardie dag het ek letterlik ‘n stryd in my binneste ervaar, tussen die vlees en Gees. Die Gees het gesê “gee My jou hart en die vlees wat sê as jy nou jou hart vir die Here gee kan jy nie meer rook nie en kan jy ook nie meer daardie whisky drink wat in die yskas is nie.” Toe ek my oë oopmaak om vorentoe te gaan het ek gesien dat die hele gemeente al voor is en het ek net daar besluit om nie te gaan nie. Ek het die kerk uitgestap sonder om my saak met die Here reg te maak. Maar ek dank die Here vir die Heilige Gees wat, as Hy ‘n werk in ons harte begin het, sal Hy dit ook kom voleindig.

Maandagaand die 28ste April 1996 was daar ‘n klop aan ons deur, en daar staan Ds. Johan voor ons deur. Hy het nie baie gepraat nie, hy het na my gekyk en gevra “Marlene weet jy waarheen jy gaan as jy te sterwe kom?” Ek het geantwoord “ja Ds ek is oppad na ‘n ewige hel”, en toe ek dit sê het ek in trane uitgebars en op die mat geval en toe neem ek my Here en Verlosser aan as my Persoonlike Saligmaker. Van daardie dag af het ek nooit weer agter toe gekyk nie.

Daardie aand het die Here my in ‘n oomblik verlos van 22 jaar se tabak verslawing. Die Woord sê “As die Seun jou vrygemaak het sal jy waarlik vry wees.” Die volgende dag het ek vir almal by die werk vertel dat ek my hart vir Jesus gegee het, ek was so erg dat ek elke dag traktaatjies uitgedeel het en van Jesus gepraat het dat die mense my by ons baas gaan verkla het, gelukkig is hy ook gered, dat hy vir my gesê het ek moet net stadig want die mense verstaan nie nou wat met my gebeur het nie, ek kon hom maar net antwoord en sê dat hulle moet eers my keel afsny voordat ek sal stilbly. Ek het toe by die bidure gaan aanmeld sonder dat iemand my hoef te genooi het.

Nou dat ek die ewige lewe het, het ek die vrede wat alle verstand te bowe gaan, want die Woord sê in 1 Johannes 5:12 “Hy wat die Seun het, het die lewe, hy wat die Seun van God nie het nie het nie die lewe nie.

My vader beeld was stukkend en daarom het ek gesukkel om God te kon vertrou. Ek moes ook eers met my verlede deel en dit was om onvoorwaardelik my Pa te kon vergewe vir dit wat hy aan ons as kinders gedoen het. Toe ek dit gedoen het, het die Here my vry gemaak van alles wat my so gebind het deur die jare. Haat is ‘n verskriklike ding, dit maak dat jy God nie kan vertrou vir dit wat Hy vir jou wil kom doen nie. Vaders, wees versigtig watter voorbeeld julle vir julle kinders stel, want dit bepaal hoe hulle God as hulle Vader voorstel.

VERVULLING MET DIE HEILIGE GEES

Ek het net ‘n geweldige honger en dors na die Here gehad. Ons was by die Amana konferensie oor Paasnaweek waar ek gehoor het ek moet die Here vertrou vir ‘n 2de genade werk in my lewe sodat die Here my kan kom vervul met die Volheid van Sy Heilige Gees. Die dag van die 16de Maart 1997 het ek die Here gaan opsoek, en vir Hom gevra om ook hierdie werk in my hart te kom doen en dit ook aan my te kom bevestig deur Sy Woord, dat Hy dit ook gedoen het. Hy bevestig dit toe ook in Sy Woord vir my in 1 Kor 6:11 “Maar julle het julle sondes laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygemaak in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God.”

Van daardie dag af het die Here my op wonderlike maniere gebruik. Ek en Willie het met ‘n karavaan bediening begin en die Here het soveel siele gered. Ons was betrokke by die ouetehuise, ons het bidure onder die armste blankes gaan hou, daar was net geen keer aan ons nie, want die liefde van Christus dring ons om te gaan.

ROEPING

In die vroeë oggend ure van die 25 ste Augustus 1998 het ek gedroom ek hou ‘n kinderdiens vir ‘n klomp bruin kinders. Ek het uit die bed gespring, dit was omtrent 5 uur die oggend, en ek vra die Here as hierdie droom van Hom afkom dat Hy dit dan moet kom bevestig vir my deur Sy Woord, want dan sal ek dit doen. Die Here het dit bevestig in Prediker 11:6 “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie.” Asook Gen 23:20 “Kyk, Ek stuur ‘n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het.” En dit het letterlik in vervulling gekom toe ek ‘n vriend wat in ons kerk is gebel het, (hy het ‘n winkel in Conville bruin woongebied) toe ek hom vra of ek nie net langs sy winkel ‘n plekkie kan kry om die kinders bymekaar te kan maak nie, toe sê hy vir my daar is alreeds so ‘n plekkie wat deur Life Community bedryf word en hulle soek juis iemand om hulle te kom help. Ek het dadelik geweet God roep my vir kinderbediening. Ek het lank daar onder die kinders gewerk, die Here het ons ryklik geseën met siele wat by hom uitgekom het, maar ons het toe na Hartenbos getrek. Daar het ons betrokke geraak met Dissipelskap wat ‘n hulp arm van Arbeidsbediening is. As daar iemand by die werkplek ‘n behoefte toon na die Here gaan Willie en ek saam met ‘n opgeleide dissipelskap man die mense besoek by hul huise. Ons hou bidure en lei hul na die Here, ons bou vriendskappe en ons bemoedig hulle deur elke maand vir hulle ook te bel.

Die dissipelskap manne het opleiding gekry hoe om iemand na die Here Jesus toe te lei asook om Bybelstudies te hou. Ons sien toe dat die praktiese afdeling gedoen word, waar hulle vashaak vul ons aan. Ons is nou woonagtig in George, maar ons arbeidsveld is Mosselbaai omgewing asook George. Partykeer kry ons die geleentheid om die Jesus film te kan vertoon. Ek en Willie hou ook kinderdienste by kerke en hy preek ook orals waar hulle hom nodig het. Dit is ‘n groot voorreg om vir die Here te werk en ek gee Hom al die eer vir wat Hy in ons lewens kom doen het en nog gaan doen.

 
Home