fbpx

Verlossing

Daar is ‘n duidelike pad wat die Here met ‘n sondaar loop om sy siel te red, hom vir diens toe te rus en ook vir die ewige lewe in die hemel voor te berei.

1. Roeping

Die Here gee die eerste tree op die pad van die sondaar se redding (Rom. 5:8), want Hy roep sondaars tot bekering op (Jes. 1:18). Vir hierdie doel het die Seun van God na die aarde gekom, om verlore mense na Hom toe te roep en sy vergifnis en rus aan hulle te bied (Matt. 11:28). Hierdie roepstem is net vir hulle wat erken dat hulle ‘n geestelike probleem het (Matt. 9:13).

Dit is belangrik om die roepstem van die Here duidelik te hoor, want dit sal die aard van jou reaksie bepaal. Jy moet die omvang van jou probleem van verlorenheid deeglik besef, naamlik dat jy sonder Jesus Christus op ‘n ramp in jou lewe afstuur. Daar is geen ruimte vir selfregverdiging wat jou donker geestelike toestand betref nie, want daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie (Rom. 3:10). Jy moet kennis oor sonde opdoen, en veral van jou eie sondes wat ‘n skeidsmuur tussen jou en die Here is (Jes. 59:2). Daar moet geen twyfel by jou bestaan dat die ewige doodstraf oor sondaars uitgespreek is nie (Rom. 6:23). Alle ongereddes moet hulle op die voltrekking van dié vonnis voorberei, want as hulle nie tot bekering kom nie, wag die ewige verdoemenis op hulle (Matt. 25:41).

In die roeping van die Here word nie slegs jou probleem geïdentifiseer nie, maar ook die oplossing daarvoor. Die feit dat God jou liefhet en deur die kruisdood van die Here Jesus dit vir jou moontlik gemaak het om sondevergifnis en die ewige lewe te verkry, is die goeie nuus wat saam met die roeping verkondig word (2 Kor. 5:21; 1 Pet. 3:18; 1 Joh. 4:10). Die roeping van God moet só tot die sondaar kom dat hy ook die volle implikasies van ‘n kosteberekening sal besef. Jesus het vir Nikodémus duidelik laat verstaan dat teologiese kennis en ‘n mooi lewe nie genoeg is om die koninkryk van God te beërf nie – hy móét weergebore word (Joh. 3:3). Hiervoor is dit nodig om alle bewuste sondes te bely en te laat staan sodat jy volkome nuut gemaak kan word.

Jesus het vir die ryk jongman gesê dat hy eers met sy sonde van materialisme moes breek (Luk. 18:22). Vir dié jongman, wat andersins baie godsdienstig was, was dit moeilik om van sy boesemsonde af te sien, en hy het bedroef van die Here af weggegaan. Baie ander mense vind dit ook moeilik om tot bekering te kom, omdat hulle nie werklik met al hulle sondes wil breek nie. Dit is nie maklik om deur die nou poort in te gaan nie (Luk. 13:24). Dit is egter ‘n wonderlike ondervinding en iets wat jy moet aanhou soek totdat jy dit vind (Luk. 11:9).

2. Berou

‘n Sondaar wat onder die oortuiging van die Heilige Gees is, het groot berou oor sy sondige lewe. Hy regverdig nie meer homself nie en is diep onder die indruk van sy sonde en verwerplikheid. Hy voel aangekla en veroordeeld oor alles wat hy gedoen het. Sy skuldgevoelens dryf hom dan na die Here Jesus – dié Een wat so ‘n vernederende dood vir die redding van sondaars gesterf het. Droefheid oor sondes lei na bekering en redding (2 Kor. 7:10). Toe Petrus die Here Jesus verloën het, het hy buite toe gehardloop en bitterlik geween (Matt. 26:75). Dit is ware berou oor sonde, en hieruit vloei dié soort belydenis wat die voorwaarde vir vergifnis is. Jy moet erken dat jy ‘n mislukking van jou lewe gemaak het, en jou vertroue in die Here alleen stel om jou te red.

3. Bekering

Wanneer die berouvolle sondaar besluit om sy saak met die Here reg te maak, dan draai hy om op sy lewenspad wat weg van die Here af gelei het, en nader die troon van genade met belydenis van sonde (Spr. 28:13; 1 Joh. 1:8-9). Sowel sondaars wat tot bekering kom as teruggevalle Christene wat weer deur sonde verstrik geraak het, moet ten volle bereid wees om hulle rug op die ou lewe te draai en belydenis van hulle oortredings te doen (Ps. 51:5-6,9; Luk. 15:18; 18:13). Wanneer ons onsself tot Jesus Christus bekeer, moet ons glo:

  • dat Hy die waaragtige God is wat die Redder van die wêreld is (1 Joh. 5:20; Luk. 19:10);
  • dat ons slegs op grond van sy kruisdood met God versoen kan word (Kol. 1:20);
  • dat ons deur bekering en sondebelydenis tot Hom moet nader (Matt. 9:13; Hand. 17:30);
  • dat die Here volkome in staat is om die ou lewe te laat verbygaan en alles nuut te maak (2 Kor. 5:17); en
  • dat Hy ons koop met sy bloed wanneer Hy ons red, en dat ons dus sy eiendom word om enige tyd en op enige plek deur Hom gebruik te kan word (1 Kor. 6: 19-20; 1 Pet. 1:18-19).

4. Regverdigmaking

Die sondaar se redding deur die Here sluit twee aspekte in, nl. die uitdelging van sy sondeskuld (regverdigmaking), en die gawe van die ewige lewe wat aan hom geskenk word (wedergeboorte). Dié twee sake staan in ‘n noue verband met mekaar, want die gevalle mens is geestelik dood as gevolg van sy sondes en misdade – hy moet vergewe én lewend gemaak word. Die grondslag vir die vergifnis van ‘n mens se sonde is die kruisdood van die Here Jesus, waardeur Hy die doodstraf vir ons sonde betaal en só sy groot genade en liefde vir ‘n verloregaande mensdom bewys het (Rom. 3:23-25; Jes. 53:5; Ef. 1:7). Elkeen van ons het ‘n skuldbrief, of klagstaat, van sonde op grond waarvan die duiwel ons aankla en op ons lewe aanspraak maak. Hierdie klagstaat word deur die Here Jesus se versoeningswerk aan die kruis uitgewis (Kol. 2:13-14).

5. Wedergeboorte

Die konsep van wedergeboorte is van die allergrootste belang in die redding van sondaars. Hierdeur sê die Here dat ons geestelik dood was weens ons sonde, en deur Hom lewend gemaak moet word; en dat ons ou lewe tot in sy kern verdorwe is en glad nie gerehabiliteer of verbeter kan word nie. Ons moet deur die wedergeboorte nuut gemaak word om deelgenote van Christus se koninkryk te kan word (Joh. 3:3). Tydens wedergeboorte word ons deur die Heilige Gees in die liggaam van Christus gedoop (1 Kor. 12:13). Ons word deel van sy liggaam. Verder dui die wedergeboorte op die opstandingslewe van die Here Jesus (1 Pet. 1:3; Titus 3:5-7).

Die eerste stap wat ‘n weergebore persoon moet neem, is om van sy redding te getuig. Volgens Romeine 10:9-10 móét ek met my mond die Here Jesus bely as ek waarlik gered is. Die eerste belydenis met my mond is teenoor Christus self wanneer ek Hom as my Verlosser aanneem. Daarna getuig ek teenoor ander mense van die feit dat Hy my siel uit genade gered het.

Hierdie getuienis word ook uitgedra deurdat ek myself as ‘n gelowige laat doop – m.a.w. ná my bekering, soos deur Christus beveel (Mark. 16:15-16; Matt. 28:19). ‘n Getuienis van geloof in die Here Jesus as jou Redder is ‘n duidelike voorvereiste vir die doop. Die hofdienaar het vir Filippus gevra: “Wat verhinder my om gedoop te word?” Die antwoord was: “As u glo met u hele hart, is dit geoorloof.” Die hofdienaar se antwoord was: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is” (Hand. 8:36-37). Daarna is hy gedoop. Paulus en ander bekeerlinge is ook kort ná hulle redding gedoop (Hand. 9:18; 10:47-48; 16:31-33). Die waterdoop het hulle nie gered nie, maar van hulle redding (geestelike doop) getuig. Uit die sendingopdrag in Mattheus 28:19 is dit baie duidelik dat redding deur doop gevolg word, en daarna deur intensiewe onderrig in die Woord van die Here, met die oog daarop dat die bekeerlinge self dissipels kan word wat ander na die Here toe kan lei. Dit is nodig om al die stappe op die heilsweg noukeurig te volg as ons die volle seën van die Here oor ons lewe wil geniet.

6. Heiligmaking

Aan die ware kerk van Jesus Christus, m.a.w. diegene wat reeds wedergebore is, kom die duidelike opdrag in die Bybel om hulleself te verloën, met die Heilige Gees vervul te word, rein en ingetoë te leef en vrug te dra wat by die bekering pas. Die eerste opdrag op die pad van heiligmaking en dissipelskap is selfverloëning en die opneem van die kruis (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Volgens Lukas 14:27-33 staan die kruis van selfverloëning in verband met die kosteberekening vir dissipelskap. Jy moet ‘n keuse maak of jy die hartstogte en begeerlikhede van die vlees (die ou, wêreldsgesinde natuur met al sy neigings) wil bevredig, en of jy werklik bereid is om van daardie dinge af te sien en die Here met jou hele hart en alles wat jy het, te dien. As jy eerlik in jou oorgawe is, sal die Here Jesus jou met sy Gees vervul (Ef. 5:18). Deur die krag van die Heilige Gees is dit moontlik om ‘n godvrugtige lewe te lei en die wil van God te doen.

7. Verheerliking

Die laaste stap op die heilsweg is verheerliking. Dit sal by die eerste opstanding plaasvind, wanneer die ontslape én lewende Christene met onsterflike opstandingsliggame beklee word (1 Kor. 15:51-52). Die volle besonderhede van ons verheerlikte posisie in die hemel is nog nie aan ons geopenbaar nie, maar ons weet dat wat ons onverganklike opstandingsliggame betref, ons aan Christus gelyk sal wees. Hy sal steeds die Hoof van die gemeente wees, maar ons sal saam met Homom HomH wees en in sy onuitspreeklike heerlikheid deel (Fil. 3:20-21; 1 Joh. 3:2-3). In afwagting op ons verheerliking moet ons nóú vir ons hemelse bestaan voorberei word, en in alle opsigte rein en heilig leef. Vir ons toekomstige verheerliking is dit van groot belang hoedanig ons geestelike lewe op aarde is. Behalwe dat ons wedergebore moet wees, word ons ook opgeroep om Geesvervulde lewens te lei en die Here te dien. Vir ons arbeid in die Here sal ons genadeloon by die regterstoel van Christus ontvang (2 Kor. 5:10).

Persoonlike toewyding

My hart is vol dankbaarheid omdat die Here my siel uit genade gered en my naam in die boek van die lewe geskryf het. Ek is in verwondering oor die hoë roeping van God in Christus Jesus. Redding is net die begin van ‘n pad van heiligmaking en diensbaarheid in die koninkryk van die hemel, en hieraan wy ek myself hart en siel. Mag my lewe ‘n gereinigde kanaal wees waardeur die lig van Jesus Christus in ‘n donker wêreld kan skyn. Die hoofdoel van my lewe is om ‘n getroue dienskneg van die Here Jesus te wees, wat nooit sal ophou om sy lof te verkondig nie. Wat ‘n vreugde om te weet dat as ek die pad van die Here bewandel, Hy met my sal wees al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld (Matt. 28: 20). Ek hoef nooit een oomblik sonder Hom te lewe nie.

Vrae

1.    Wat is die straf wat vir alle sondaars op aarde wag, en wie sal dit voltrek?

2.    Wat is die roeping van God aan sondaars?

3.    Verduidelik die noodsaaklikheid van berou oor sonde.

4.    Wat behels bekering alles?

5.    Wat beteken wedergeboorte?

6.    Waarom moet mense heilig leef?

7.    Wat is die verheerliking wat die Here aan ons beloof het, en wanneer sal dit gebeur?

Prof. Johan Malan